Waarom woordeboeke?

Waarom moet ons woordeboeke hê - ek kan tog deesdae alles google wat ek wil weet?
Waarom moet ons ons kinders van woordeboeke leer, hulle leer tog hulle taal algaande aan? Hoekom op dees aarde sal ek 'n woordeboek koop as ek liewer 'n lekker storieboek kan koop? Waarom kry woordeboeke so min aandag, ook in ons kinders se opvoeding en op skool? Is dit nodig dat hulle nog van woordeboeke óók moet leer?
Die goed is mos daar as mens dit nodig het, en buitendien kan ek alles op die internet vind.
In Suid-Afrika kry woordeboeke nie altyd die aandag wat hulle verdien nie, nie tuis nie en beslis ook nie in ons skole nie. Die ideaal moet sekerlik wees dat daar in elke (taal)klaskamer en in elke huishouding ten minste een woordeboek sal wees, en liefs 'n gedrukte woordeboek, een waaraan jy kan vat, waarin jy kan rondblaai en verrassende ontdekkings maak met elke omblaaislag.
Waarom is woordeboeke dan so belangrik? Kom ons maak, ter wille van 'n antwoord, hierdie vraag van toepassing op ons kinders:
Reeds in 'n baie vroeë stadium van hulle ontwikkeling ontdek kinders die noodsaak van woorde, die idee dat 'n hele leefwêreld van dinge, handelinge, kenmerke, ervarings, emosies en nog baie meer in 'n woordskatkis opgevang lê, en ontdek hulle die lekkerte om nuwe woorde te "proe" - as hulle maar net die kans kry.
Met die rondblaai in 'n woordeboek - as hulle die dag eers begin leer lees - kan hulle dan die wonderwêreld van nuwe woorde, nuwe uitdrukkings ontdek, en algaande hulle woordeskat uitbrei.
Hulle kan van vroeg reeds naslaanvaardighede aanleer, deur onder andere te leer watter verskillende roetes daar is om by die skatte in die woordeboek uit te kom - en ons weet reeds dat kinders wat hierdie vaardighede aanleer en toepas beter vaar op skool, en sekerlik ook later in 'n leefwêreld waar taal en kommunikasie van oorheersende belang geword het.
Hulle leer woorde se betekenisse, hoe om woorde korrek in sinne te gebruik, om hulle spelling op standaard te hou, en van woordsoorte, afleidings en samestellings, om maar enkele dinge te noem.
Die vaardighede wat hulle so aanleer, die groei in hulle woordeskat en die verbetering van hulle prestasie kweek selfvertroue en die onafhanklike denke om verder selfontdekkend te werk en hulself te handhaaf in 'n kompeterende wêreld
Die ontsluiting van die skatte in woordeboeke lê aan die basis van begrips-, taal- en kommunikasievaardighede wat so noodsaaklik is om jou as mens te handhaaf
Die verhouding tussen woordeboeke en goeie kommunikasie word eintlik al verraai in die naam van hierdie besondere objek: in Afrikaans die idee dat dit 'n boek is met die woorde, die boustene waaruit ons kommunikasie opgebou is, en in Engels (via die Latyn) dictionary wat afgelei is van dictio wat "die handeling om te praat" beteken, ook herkenbaar in ons woord diksie wat "manier van praat" of die "die kuns om te praat, voor te dra" beteken. Die woordeboek ontsluit juis daar die skat van woorde wat ons nodig het om effektief met mekaar te kan kommunikeer, om ons innerlike bloot te lê, om gestalte te gee aan dit wat ons is, in sy volle, diepste betekenis.
En waarom tog liefs ook gedrukte woordeboeke? Die antwoord lê in die ontwikkeling van geletterdheid en veral die naslaangeletterdheid by ons kinders. Niks kan die fisiese omgang met 'n woordeboek vervang nie: Die ontdekking van nuwe woorde met elke omblaai-aksie, die saambestaan van verskillende tale teenoor mekaar, en die kennismaking met verskillende ordeningsbeginsels, soos die alfabetiese organisasie van die meeste woordeboeke of die konseptuele organisasie van (sommige) tesourusse. Wanneer 'n mens deur 'n woordeboek blaai op soek na 'n spesifieke woord, ontdek jy ook ander woorde langs die pad, en dit stimuleer nuuskierigheid om nuwe woorde aan te leer.
Buitendien is die kamtige snelheid van die aanlynomgewing nie altyd die antwoord nie, want die inperking van die beperkte skerm bied juis nie die moontlikheid om lekker rond te blaai en te snuffel nie, die geleentheid tot ontdekking, die stimulus tot die aanleer van nuwe woorde en uitdrukkings, of die nadenke wat met die oorweging van woordkeuse gepaardgaan nie. Nie soos 'n lekker stewige woordeboek wat jou nooi om 'n bietjie rond te krap in die skatkis nie.
Om 'n kind, en desnoods jouself dít te ontsê, is 'n sonde.
Comments