top of page
  • Amanda de Stadler

Waarom woordeboeke, en veral gedrukte woordeboeke?

Woordeboeke in die klaskamer


Hier is 'n paar feite in antwoord op bg. vraag.


Feit 1 (eintlik drie feite in een):

Hoe meer woorde jy ken, hoe beter kan jy jouself uitdruk.

Hoe meer woorde jy ken, hoe beter verstaan jy die wêreld.

Hoe meer woorde jy ken, hoe beter en makliker kan jy leer.


Feit 2:

Wanneer jy 'n gedrukte woordeboek oopslaan op soek na 'n woord, word jy oorspoel met woorde op die res van die bladsy en op die teenoorstaande bladsy, woorde wat jy dalk nie ken nie, anders as wanneer jy net een woord op jou slimfoon intik. En elkeen van hierdie woorde is 'n potensiële (onbedoelde) leergeleentheid, en jy word as't ware deur die boek uitgenooi om hierdie (woorde)skat te ontsluit.


Feit 3:

Om 'n woord te kan naslaan, moet jy die alfabet goed kan gebruik, jy moet volgorde verstaan en bemeester, jy moet kan spel en jy leer dat woorde in kontekste gebruik word. Wat 'n bonus! Vyf vaardighede wat ontwikkel word.


Feit 4:

Om die regte (of juis-ste - die spelling word presies so bedoel) woord te soek, veral in 'n gedrukte woordeboek, verg konsentrasie en tyd. Tyd is 'n luukse wat mens moet leer waardeer. Wanneer jy in stilte kan dink, kan aarsel, kan twyfel, kan rondkyk, kry jy kans om behoorlik na te dink oor jou woord-besluit, om kreatief te wees, om nuwe idees te bedink.


Feit 5:

Jou fokus is skerper wanneer jy in 'n gedrukte woordeboek naslaan. Jou aandag word nie afgelei deur advertensies, 'n vinnige loer of daar 'n whatsapp vir jou wag of 'n gunsteling-webwerf wat gou beloer moet word nie. Ons onderbreek onsself tog so maklik!


Feit 6:

Nuuskierigheid is een van die boustene van lewenslange leer. Woordeboeke wakker dit aan met 'n haas onbeperkte hoeveelheid keuses en moontlikhede.


Ten slotte:

'n Boek wat mense, groot en klein, laat dink oor die waarde van woorde en wat ek vir almal aanbeveel, is In die land van die groot woordfabriek deur Agnes De Lestrade (Protea). Dit is ontgogelend om jouself vir 'n oomblik te verplaas na 'n land waar jy woorde moet koop om mee te kan praat. Jy kan woorde in winkels koop, soms op uitverkopings of in vuilgoeddromme soek. Praat is duur in die land van die groot woordfabriek. Woorde is kosbaar en jou woordeboeke is vol daarvan.


Woordeboeke, en veral ook gedrukte woordeboeke, is elke sent werd wat jy vir hulle betaal en nog veel meer!


Bronverwysing: www.scholastic.com Five unsung literacy benefits of using a print dictionary.

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page