- Amanda de Stadler
'n Skatkis vol wenke en idees vir die klaskamer
Die wenke wat hier aangebied word, moet uiteraard aangepas word met inagneming van die behoeftes en vaardighede van die leerders
Elke leerder hou sy eie, persoonlike woordeskatlys by. Jonger leerders kan hulle eie klein skatkissie uit bv. 'n skoendoos maak en elke nuwe woord wat hy of sy leer ken, daarin bêre. Daar kan ook woordeskatlyste vir elke klas bygehou word.
Laat leerders onderstreepte woorde in sinne vervang met verwante woorde wat hulle in die Tesourus naslaan. Voorbeeld: Dit was 'n slim plan om gif te strooi in die toebroodjie wat die dief jou gedwing het om vir hom te maak. Die leerder soek dan die onderstreepte woord in die indeks agter in die Tesourus op en gaan na die betrokke tesourusartikels: 502 Verstand; 614 Bekwaam; 622 Goed en 815 Oneerlik. Leerders kies woorde wat lei tot 'n bespreking oor watter woorde gepas is. Dit kan sommer ook die onderwerp vir 'n opstel word!
Gee 'n lys werkwoorde en vra die leerders om passende selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde in die Tesourus na te slaan.
Gee 'n geskikte sinne/leesstuk waarin die onderstreepte woorde vervang moet word om aan die leesstuk die teenoorgestelde betekenis te gee.
Gee 'n geskikte sinne/leesstuk waarin onderstreepte woorde vervang word sodat die register van die stuk verander.
Hoe groet ek my ma, my sussie, my skoolhoof, my vriende, 'n vreemdeling? Gebruik die Tesourus en probeer verklaar hoekom dit verskil.
Maak sinne met rapsie, titsel(tjie), krieseltjie, skeutjie, toontjie, proeseltjie en skeppie om aan te dui dat jy presies weet hoe om die juisste woord te gebruik vir jou doel. Wenk: begin jou sinne met omdat of alhoewel – dit dwing jou om die betekenis van die woord duidelik weer te gee!
Gee 'n ander woord/woorde vir die volgende konsepte in die indeks: mooi, onregverdig, ernstig, hok. Maak sinne met elkeen en begin die sinne met omdat of alhoewel want dit lei tot betekenisvolle sinne.
Etikette: op p. xxvii vind jy 'n lys etikette wat gebruik word by woorde, wanneer nodig. Dit kan lei tot interessante debatte in die klas om leerders sensitief te maak vir die krag van taal, positief en negatief en dat alle sprekers 'n wag voor die mond behoort te hê. Woorde kan skertsend, verouderd, ongewoon, kwetsend, rassisties ens. wees. Leerders behoort advies hieroor te ontvang. Gaan kyk byvoorbeeld by 499. Sien onder die ww. kyk. Daar sien jy dat die woord uitcheck as lekties en informeel gemerk is en dus nie oral geskik is om te gebruik nie.
Die digter Philip de Vos het die volgende gediggie geskryf wat die waarde en gebruik van die Tesourus besing:
Wanneer doer, en wanneer daar?
Wanneer poegaai, wanneer klaar?
Wanneer rimpel, wanneer plooi?
Wanneer katel, wanneer kooi?
Wanneer oukei, wanneer ja?
Die wêreld is vol vreemde vrae.
Wanneer later, wanneer dan?
Gaan vra maar die Tesourus-man.
Vir die onderwyser: Dink 'n bietjie watter taalkundige verskynsels word in De Vos se vrae na vore bring?
Comments