top of page

Name vir allerhande goeters

Leon de Stadler

- uit die Tesourus van Afrikaans (Pharos)


'n Tesourus word nie net gebruik om sinonieme te soek nie. Verskillende leksikale verhoudings word in 'n tesourus uitgestal, waarvan sinonimie maar net een is. Dink daarnaas ook nog aan antonimie (teenoorgesteldheid), meronimie (die deel-geheel-verhouding; vinger is 'n meroniem van die holoniem hand) of hiponimie (die verhouding waarin subtipes van 'n tipe benoem word; leeu en luiperd is hiponieme van roofdier).

Dis op laasgenoemde verhouding wat die fokus hier val: Afrikaanssprekendes kan die wonderlikste name vir allerhande goeters in ons leefwêreld uitdink om die lede van verskillende kategorieë te beskryf. Hierdie naamgee-kreatiwiteit kom besonder sterk na vore in die name wat ons vir verskillende soorte voëls bedink. Ek het weer gaan loer onder die voëlname in die Tesourus van Afrikaans, en my maar net weer vergryp aan die rykheid van die Afrikaanse woordeskat

  • Baie van die voëlname is klanknabootsende name, soos die bergpietjie ('n kanarie) en die pietjiekanarie omdat hulle 'n geluid maak soos iemand wat klink asof iemand Pietjie roep (pieeetjieee), of die bokmakierie (bok-bok-bok triiieee), kelkiewyn (kontakroep wat klink soos die naam), janfrederik ('n voël wat baie klanke naboots, en waarvan een van die roepe klink na jan-fre-de-rik; ook bekend as 'n jantatarat, wat klink soos een van die geluide wat die Heuglinjanfrederik maak), japjappie (die volksnaam vir die Karoospekvreter met sy jap-jap-jap-roep), koekoek, piet-my-vrou (waarvan die roep byna presies klink soos die naam), piet-tjou-tjou ('n grysmees waarvan een van die roepe klink soos die naam), wielewaal (vloeiende geluide wat, veral by die Europese wielewaal klink soos die naam); maar soms is dit sommer ook net 'n bromvoël ('n soort neushoringvoël wat 'n bromgeluid maak so onaantreklik soos die voël self) of 'n bosmusikant (met sy pragtige, gevarieerde sang, dikwels in duet) en die lawaaierige katlagter met sy staccato-agtige geluide (vandaar ook die verwysing na 'n persoon wat raserig en verspot is as 'n regte katlagter).

  • Die oorbekende voornaam Jan kom in baie van die voëlname voor: janfiskaal, janfrederik, jantatarat ('n ander naam vir die janfrederik), jangroentjie, janpierewiet, jan-van-gent, kleinjantjie, maar daar is ook 'n paar Piete, soos die bergpietjie, piet-my-vrou, piet-tjou-tjou, en 'n dirkdirkie, 'n tobie, 'n nellie en 'n willie.

  • Ander se name verwys na hulle voorkoms: fiskaallaksman (ook bekend as 'n fiskaal of janfiskaal), fiskaalvlieëvanger (albei omdat hulle met hulle swart rug en stert en wit onderkant lyk asof hulle 'n amptelike manel dra, soos die fiskaal van ouds), hamerkop (watervoël met 'n kop wat lyk soos 'n hamer), jangroentjie (groen suikerbekkie), lepelaar (watervoël met 'n bek gevorm soos 'n lepel), fraiingtoon, langtoon; soms sommer net hulle algemene skoonheid, soos die mooimeisie en troupant of die nonnetjie-uil (ook nonnetjiesuil, nooiensuil, omdat sy omraamde gesiggie lyk soos dié van 'n nonnetjie met haar hooftooisel).

  • Name wat betrekking het op gedrag, eetgewoontes, ens. soos 'n boskruiper (omdat hy in woude en bosse "rondkruip" op soek na kos), 'n klapklappie of 'n klopkloppie (omdat hulle hulle vlerke gereeld klap), die nimmersat (uit die Duits Nimmersatt, omdat hy konstant kos soek, asof hy nooit versadig gaan raak nie), die spekvreter ('n insekvretertjie, wat nie regtig spek eet nie).

Die mikrowêreld van voëlname is maar net 'n nog 'n voorbeeld van die rykdom wat in die Afrikaanse woordeskat opgesluit lê.


Bronne: Roberts Voëlgids, Roberts Bird Guide App, Voëls van Suider-Afrika, Birdscan App


Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

© 2017 Leon de Stadler

bottom of page