top of page
  • Leon de Stadler

Nie op jou bek geval wees nie – nuwe Afrikaanse spreekwoordeboek laat jou die taal gooi

Pharos se Spreekwoorde en ander segswyses het pas verskyn. Dis die derde hersiene uitgawe van dr Anton Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, en is volgens Leon en Amanda de Stadler, die herbewerkers, maar net weer 'n getuigskrif van die wonderlike werk wat Anton oor baie jare vir Afrikaans gedoen het.


Spreekwoorde, in sy pragtige oranje baadjie, bevat ongeveer 11 000 Afrikaanse spreekwoorde wat op 'n aantreklike manier aangebied word met betekenisverklarings, Engelse ekwivalente spreekwoorde of Engelse verklarings, en die begrippe of konsepte waarmee hulle geassosieer word. Behalwe die 1 400 nuwe spreekwoorde wat bygewerk is, is die woordeboek ook grondig verbeter deur hersiening van betekenisbeskrywings, meer Engelse ekwivalente en uitbreiding van die begrippe- of konsepindekse (in Afrikaans en Engels) wat mens help om toegang te kry tot gepaste spreekwoorde vir die begrip of konsep wat jy wil verhelder of verder inklee.


By talle van die spreekwoorde verskyn daar ook verklarende aantekeninge, veral oor die herkoms van die betrokke spreekwoorde.


Die woordeboek is voorsien van 'n voorwoord wat onder andere die belang van spreekwoorde verduidelik, en die gebruiksleiding is ook verbeter met 'n netjiese visuele voorstelling van die onderdele van elke inskrywing met uitvoerige beskrywings van al die onderdele en konvensies wat gebruik word.


Behalwe die waarde van Spreekwoorde as 'n naslaanbron is dit sommer net lekker om daarin te lees. Mens loop weer ou vriende raak soos Bloed uit 'n klip wil tap, Gekke en dwase skryf hulle name op deure en glase, Vir iemand die kastaiings uit die vuur krap, Met die gebakte pere sit, In iemand se slaai krap en nog vele meer.


Maar daar is ook heerlike voorbeelde wat maar net weer die soepelheid en lewenskragtigheid van Afrikaans onderstreep, talle uit die verskillende variëteite van Afrikaans, en ander natuurlik ook aan die stoute kant: Die snotpsalm aanhef (begin huil en dan loop jou neus), Iemand sing soos 'n brommer in 'n beeshoring (iemand sing, vals, eentonig, deur sy/haar neus), Iemand het 'n kop so klein soos 'n kuierkierie, Dala wat jy moet (doen wat jy moet doen), Ons dam se ganse (lede van ons familie, groep), Dik gelap wees (al baie swaar gekry het, arm wees), Nou krap jy met 'n kort stokkie aan 'n groot leeu se bal (nou soek jy moeilikheid), Jou gat op 'n knop ruk (jou vererg).


Hierdie boek bring weer die rykheid van 'n deel van die Afrikaanse taalskat in reliëf – dit hoort op elke taalliefhebber se boekrak.


Lees ook Joan Hambidge se hoogs gewaardeerde en skreeusnaakse resensie hier.

Die woordeboek is beskikbaar in boekwinkels, maar kan ook aangekoop word by die volgende aanlynomgewings:


Exclusive Books: https://www.exclusivebooks.co.za/product/9781868902194 (no cover - will prompt)

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page