top of page
  • Leon de Stadler

Woeker met Woordeboeke - 'n Nuwe diens vir onderwysers en ouers


Die webblad Woeker met Woordeboeke (https://www.leondestadler.com/woeker-met-woordeboeke) is 'n gratis diens wat die waarde en gebruik van woordeboeke wil profileer. Die webblad is veral bedoel vir ouers en onderwysers wat 'n sterk sentiment het oor hulle kinders se taalontwikkeling en taalvaardigheid.


Die indruk wat ek soms kry, is dat woordeboekopvoeding dalk te min aandag ontvang, beide in ons skole en ook tuis. In 'n ideale wêreld sou mens verwag dat daar in elke huishouding, in elke klaskamer, en in elke biblioteek 'n behoorlike versameling woordeboeke sal wees en dat die woordeboeke behoorlik benut word, veral dat kinders geleer word watter wonderlike skatte in hierdie boeke opgesluit lê.


In 'n ideale wêreld sou mens verwag dat daar in elke huishouding, in elke klaskamer, en in elke biblioteek 'n behoorlike versameling woordeboeke sal wees, en dat die woordeboeke behoorlik benut word, veral dat kinders geleer word watter wonderlike skatte in hierdie boeke opgesluit lê.

Hierdie ideale wêreld bestaan natuurlik nie, dit weet ons almal. Inteendeel, as mens kyk na die aantal biblioteke wat toemaak, skoolbiblioteke wat verdwyn, en veral die bedenklike houding van so baie mense oor die belang van boeke, dan tree daar 'n stuk wanhoop in wat moeilik onder woorde gebring kan word. In Suid-Afrika (en veral in ons regering) word hoog opgegee oor die belangrikheid van lees- en skryfvaardighede, maar dan laat ons toe dat so 'n swak boekekultuur wortel skiet, dat biblioteke sluit en dat geletterdheid op die lae vlakke bly wat ons tans ervaar.

Aan die basis van ons kinders en ons eie taalontwikkeling lê die begrip en waardering vir die rol wat woordeboeke speel en die belang wat ons almal het by die herwaardering van hierdie bronne se rol in ons en ons kinders se talige ontwikkeling.

Met hierdie webblad hoop ons om 'n bietjie besinning terug te bring, en 'n ruimte te skep vir diegene wat die waarde van 'n sterk woordeboekkultuur besef, vir hulle en hulle kinders. Die webblad, wat voortdurend bygewerk sal word, bied die volgende aan:

  • Inligting oor verskillende soorte woordeboeke en hoe hulle gebruik word

  • Idees en advies oor woordeboekopvoeding

  • Woordeboekopvoeding in die klaskamer

  • Opleidingsgeleenthede (kursusse, werkswinkels, ens.)

  • Blogs en ander publikasies oor woordeboeke en woordeboekopvoeding

  • Interessante artikels oor die onderwerp

  • Inligting oor woordeboeke wat in Suid-Afrika beskikbaar is

  • Aanlynbronne

Ons hoop die webblad sal help om woordeboeke die plek in ons Suid-Afrikaanse huishouding te gee wat hulle verdien. Ons verwelkom enige kommentaar wat sal help om die blad te bly verbeter.

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page