- Amanda de Stadler
Spreekwoorde kan tot ure se pret lei
Soek idiome wat jy kan gebruik om byvoorbeeld iemand wat parmantig is, te beskryf. Daarvoor gaan jy na die Afrikaanse indeks agter in Spreekwoorde en onder die konsep parmantig (in vetdruk) kry jy die volgende trefwoorde van die spreekwoorde wat jy moontlik sal kan gebruik: haan 13, hardegat, hardekoejawel, hardekwas, kaal 2, kaiing 5, kalkoenmannetjie, kapokhaantjie, nek 6, parmantig, slimjan, stert 7, wys 3, wysneus. Onder die trefwoord haan 13 wat alfabeties voor in die boek is, is die spreekwoord 'n haantjie wees. So kan jy aangaan en uit die trefwoorde 'n hele lys spreekwoorde saamstel om in jou skryfwerk te benut.
Vervang die onderstreepte woord in sinne met geskikte spreekwoorde.
Soek die herkoms van die woord of spreekwoord op en gebruik dit in 'n sin in plaas van 'n geykte of verbeeldinglose woord. Voorbeelde: 'n lunsriem, lood swaai, hare op jou tande hê en nog baie ander!
Verskaf 'n leesstuk waarin die leerder 'n aantal woorde met geskikte idiome moet vervang sonder om die betekenis te verander.
Laat die kinders aantrek soos 'n idioom/'n idioom voorstel op Idiomedag, 'n lekker prettige civviedag-aktiwiteit!
Skryf idiome op repe papier en knip hulle middeldeur. Deel die stukke in die klas uit. Leerders moet dan hulle idioom se maat soek. Dis ook 'n lekker ysbreker-aktiwiteit om 'n klomp onbekendes te dwing om mekaar te leer ken.
Skryf 'n storie oor een van die volgende onderwerpe (die onderwyser verskaf dit) en gebruik soveel spreekwoorde as moontlik. Daar is 'n prys of beloning vir die een wat die meeste spreekwoorde gebruik.
Elke leerder kies (in stilte) watter spreekwoord hy of sy wil voorstel, en moet dan met gebare leidrade gee en die ander leerders laat raai watter spreekwoord hy of sy gekies het.
Skaf die ATKV se Idiomebordspel – Meer bek as binnegoed – aan en maak pret met spreekwoorde. Die bordspel kan bestel word by Mercia Eksteen by merciae@atkv.org.za
Comments