top of page
  • Leon de Stadler

Ons kan darem nog lag - spreekwoorde wat kielie


Afrikaanse spreekwoorde gee so baie te kenne van die Afrikaanse leefwêreld. Sekerlik een van die opvallendste dinge wat na vore tree as mens die spreekwoordeskat versigtig bekyk, is die humor van Afrikaanse mense, en dit sien mens baie duidelik geboekstaaf in die nuwe Spreekwoorde en ander segswyses van Pharos wat in September 2022 verskyn het. En miskien juis nou, met al die dinge wat so aan ons karring, bly daar altyd die een ding oor - ons kan darem nog lag, selfs vir die dinge wat ons seermaak of frustreer.


Ons hou nou maar eenmaal van grappe maak en spot, en ons doen dit oor alles en nog wat. En natuurlik is dit heel dikwels 'n bietjie stout of plat.


Ons spot byvoorbeeld graag oor mense se voorkoms: Hangskouers soos 'n kasteroliebottel (as jou skouers meer as normaal hang), Iemand het 'n klein koppie soos 'n kuierkierie, Deurskynore soos 'n galsiekhaas, Iemand lyk soos 'n drol op dreskas (gesê wanneer iemand hom/haar verbeel hy/sy lyk goed), Lyk soos een wat met die nagtrein gekom het (baie slordig lyk).


En behalwe wat hulle voorkoms betref, is daar natuurlik ook ander kenmerke van mense wat ons opval of waaroor ons mense wil beledig of bespot: Van een mens kan mens sê dat hy niks meer is as 'n poep op 'n lappie nie (iemand wat onbelangrik, onbeduidend, onbenullig is), terwyl jy van 'n ander weer dink as dikmelk eers kaas geword het (gesê wanneer sukses iemand verwaand gemaak het). En aan die ander kant van die spoor is daar diegene wat gekap, maar nie geskaaf is nie (iemand wat nie maniere het nie). In die geselskap van so 'n persoon kan jy so kalm soos 'n daggawalm probeer wees, maar dan net die volgende dag weer jou stert in 'n krul ruk vir die slegte maniere (jou vererg).


Ons kan lekker lag oor die simpel dinge wat mense doen, of die rare dinge wat met mense gebeur: Iemand sing soos 'n brommer in 'n beeshoring (iemand sing, vals, eentonig, deur sy/haar neus), Die snotpsalm aanhef (gesê vir of van iemand wat oor alles huil), 'n Dik boom met 'n klein byltjie kap (met onvoldoende toerusting 'n groot taak probeer aanpak). Soms is dit ook verbasend hoe 'n simpel stukkie menslikheid selfs meer as een spreekwoord kry, soos die verskynsel dat iemand se klere tussen die boude optrek of vasknyp: Kolmuis vreet wasgoed, Die leeu het gebyt, Wagter het die been in sy bek.


En as iemand moeilikheid soek of in die moeilikheid beland: As jy op Avbob se stoep speel, gaan jy jou gat verbrand, en as jy jou gat verbrand, moet jy op die blase sit. En moenie met jou baas skoor soek nie, want dan krap jy met 'n kort stokkie aan 'n groot leeu se bal. As jy baie aandele gehad het van 'n sekere maatskappy, het jy nou klonte in jou pap, en is jy waarskynlik in tamatiestraat. Onthou dan net: Brandewyn het nie brieke nie (as mens iets drink om jou smarte te verdrink, verloor jy dalk jou selfbeheersing).


Selfs die dood word iets ligter in spreekwoorde soos Kaiingbult toe wees (waar kaiingbult verwys na 'n droë, klipperige bult wat eintlik net goed is vir grafte), of Moerland toe wees, en om alles te kroon is iets dan nog so skaars soos 'n tweedehandse doodskis ook!


En as julle nog lekkerder wil lag oor al ons sêgoed, lees ook Joan Hambidge se hoogs gewaardeerde en skreeusnaakse resensie hier.

So as Eskom letterlik en figuurlik so in die donker rondtas en jou laat voel jy wil vir langnekkaatjie soen omdat jou moer wil strip, gryp Spreekwoorde en 'n kers en lag maar vir al die snaaksighede in ons spreekwoordeskat.


Die woordeboek is beskikbaar in boekwinkels, maar kan ook aangekoop word by die volgende aanlynomgewings:


Exclusive Books: https://www.exclusivebooks.co.za/product/9781868902194 (no cover - will prompt)







Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page