top of page
Leon de Stadler

'n Stoute storie oor die gebruik van 'n woordeboek

Die uwe word gevra om met laerskoolkinders (grade 6 en 7) te praat oor die Tesourus van Afrikaans wat in 2021 in 'n nuwe, hersiene gedaante verskyn het, en ek dink my kop flou aan 'n goeie idee om die kinders te betrek. Die storie verloop toe so:


Met die instapslag kry die kinders die onderstaande skermgreep van 'n klompie woorde wat onder die konsep GOED ingedeel is (op p. 307 van die Tesourus), en terwyl hulle instap sê ek hulle moet solank die vloekwoord soek, en siedaar, onmiddellik het ek al hulle aandag!

Daar sit drie juffrouens agter in die saal, en ek gee toe vir die groep die sin Juffrou het vandag 'n goeie Afrikaansklas gegee, maar, sê ek vir hulle, daar is iets fout, iets flou aan hierdie sin. Gou kom die antwoord na onderlinge raadpleging: "Daai woord goeie is 'n bietjie simpel." "Nou soek dan 'n woord in die inskrywing op die skerm wat beter sal werk", sê ek. En toe kom die voorstelle: " ... skitterende Afrikaansklas ...", " ... uitstekende Afrikaansklas ...", " ... briljante Afrikaansklas ...", " ... fenomenale Afrikaansklas ...", " ... merkwaardige Afrikaansklas ...", ens. Ek vra hulle oor die verskille tussen die amper-sinonieme en die seggingskrag wat hulle het, en kry, nadat hulle bietjie gedink en saamgepraat het, verstommende goeie antwoorde. Maar nie een het die moed om die vloekwoord in te span nie.


"Ai, maar julle stel my tog 'n bietjie teleur, want nie een van julle het die vloekwoord gekies nie! Dan sal ek dit maar doen." En ek laat waai, mét die nodige dramatisering: "Juffrou het 'n befókte Afrikaansklas gegee!" - natuurlik het die saal se dak gelig soos hulle lag, en die juffrouens het versigtig, maar tog 'n bietjie bekommerd, saamgelag.


"Kan julle dít vir die skoolhoof gaan sê?", vra ek. "Neee!!", antwoord hulle luidkeels. "Nou hoekom nie?", vra ek. "Dis te onbeskóf! Meneer sal baie kwaad wees", kom die antwoord, half (maar ook net half, glo my) ontsteld. "Maar", sê ek, "Meneer sal stilweg, daar in die privaatheid van sy kantoor waar niemand hom kan sien of hoor nie, lekker lag, én hy sal baie trots wees op julle juffrou, want om 'n "befokte klas" te gee sit nie in enigiemand se broek nie, al is dit nie die gepaste woord om te gebruik teenoor jou skoolhoof nie." Ek kyk die juffrouens in die oë, met al die kinders wat loer: "Kollegas, as julle dit moes aanhoor met verwysing na julle werk, sou julle waarskynlik stilweg, maar tog geamuseerd, baie lekker gevoel het, of wat sê ek?" Die drie juffrouens kon nie anders nie, hulle moes natuurlik instemmend en veral baie sigbaar knik, tot groot vermaak van die jong gehoor.


So ontdek hulle 'n nuwe stuk woordeskat, die waarde van seggingskrag, die wye keuse wat die woordeskat bied, die wonderlike nuanses wat die taal verwoord, die feit dat 'n vloekwoord, op sy tyd, net so 'n gewaardeerde deel van ons taalskat is soos enige ander woord, en hulle leer van die kwessie van gepastheid van 'n mens se keuses in verskillende kontekste.


En dit alles uit die gebruik van 'n tesourus - daai woord wat hoeka skatkis beteken.


Die nuwe hersiene uitgawe van Tesourus van Afrikaans het verskyn in 2021 en is landwyd beskikbaar in boekwinkels en by die volgende aanlynomgewings:

Raru: