'n Storie gebou met spreekwoorde
Hierdie oefening stimuleer kreatiwiteit en moedig leerders aan om 'n bietjie rond te delf in 'n spreekwoordeboek. Die opdrag is iets soos: Kan jy iets vertel deur byna uitsluitlik van spreekwoorde gebruik te maak?
Deel die leerders in klein groepies in en nadat jy vir hulle gewys het hoe 'n spreekwoordeboek soos Spreekwoorde en ander segswyses werk (bv. hoe jy die indeks van die woordeboek aanwend om by 'n spreekwoord uit te kom), vra jy hulle om 'n eenvoudige vertelling te bou wat grootliks uit spreekwoorde bestaan. Dis 'n stimulerende oefening wat groot pret afgee soos wat hulle die verskillende spreekwoorde ontdek.
In die volgende voorbeeld kry jy die idee:
So as Eskom letterlik en figuurlik so in die donker rondtas en gedurig aanjaag, soveel so dat jy voel jy wil vir langnekkaatjie soen omdat jou moer aanhoudend strip, gryp 'n kers en lag jou dan maar liewer 'n papie vir al hulle onsinnige verduidelikings in plaas daarvan om gedurig jou stert in 'n krul te ruk oor al die ongerief.
'n Leidraad: 'n mens kan eers 'n eenvoudige vertelling skryf in "gewone" taal en dan van die konsepte (in die indeks) af werk om sommige woorde of frases met spreekwoorde te vervang. Bogenoemde voorbeeld is gebou op basis van die volgende eenvoudige vertelling:
So as Eskom so sukkel en gedurig in die moeilikheid is, soveel so dat jy voel jy wil na drank gryp omdat jy gedurig kwaad is vir hulle, gryp liewer 'n kers en lag maar vir al hulle onsinnige verduidelikings in plaas daarvan om jou gedurig te vererg oor al die ongerief.
Geniet dit!
コメント