top of page
  • Leon de Stadler

'n Lewe van byna ondraaglike opposisies

'n Woord-storietjie uit die Tesourus van Afrikaans


Ons almal bevind ons op die oomblik in 'n land, ons dierbare land, waar die byna ondraaglike emosionele spanninge tussen geluk en ongeluk (Oorleef jy die ekonomiese spanninge in die land?), blydskap en hartseer (Het jy

en jou familie gesond gebly tydens die aaklige Covid-periode, of het jy ook iemand verloor in dié tyd), geborgenheid en vrees (Spring jy die misdaadgolf vry, of was jy ook al slagoffer?), en les bes lig en donker (en dis nie net beurtkrag waarvan ek praat nie), lewe en dood en nog vele meer deel van ons daaglikse brood is. En as 'n mens in die Tesourus van Afrikaans gaan rondkrap, ontdek jy die rykheid van die talige "spieëling" van hierdie opposisies.


In 'n tesourus word die verskillende soorte verhoudings tussen woorde (leksikale verhoudings) voorgestel. Dink maar aan woorde wat min of meer dieselfde beteken (sinonimie), woorde met teenoorgestelde betekenisse (die opposisies waaroor ons dit hier het; antonimie), woorde wat subtipes van 'n tipe aandui (hiponimie), woorde wat in deel-geheel-verhoudings tot mekaar staan (meronimie), en dergelike meer.

In die Tesourus van Afrikaans word teenoorgesteldheid voorgestel deur die betrokke opposisies, met al die woorde wat hulle voorstel, in tesourusinskrywings langs mekaar te plaas. Neem as voorbeeld die konsep Blydskap (nr. 718 in die Tesourus) teenoor die konsep Hartseer net langs hom (nr. 719), waarvan ek 'n klompie verteenwoordigers (daar is veel meer as wat ek hier kan noem) van elk naas mekaar plaas as demonstrasie van die rykdom wat in hierdie opposisies ontgin kan word:


Blydskap blydskap, blyheid, lewensblyheid, blymoedigheid, blygeestigheid, vreugde, vreugdevolheid, jubilasie, ekstase, sielevreugde, geestesverrukking, eksultasie, vrolikheid, opgewondenheid, geesdrif, hartelus, lewenslus, lewenslustigheid, vitaliteit, joie de vivre, uitgelatenheid, baldadigheid; geluk, onbesorgdheid, welbehaaglikheid, genoeglikheid, welstand, welsyn, geseëndheid, ingenomenheid, bevrediging, optimisme, gerustheid

Hartseer hartseer, tranedal, bedroefdheid, droefgeestigheid, bewoënheid, verdriet, weemoed, harteleed, treurigheid, triestigheid, somberte, bedruktheid, seer, smart, sielesmart, wêreldsmart; ongeluk, vreugdeloosheid, bitterte, moedeloosheid, moedverlorenheid, mismoed, neerslagtigheid, swaarmoedigheid, melankolie, wroeging, kwelsug, pessimisme, wanhoop, uitsigloosheid, swaarhoofdigheid, ontnugtering, frustrasie, ontevredenheid, ontsteltenis, ontstemming

Hiermee dan 'n boodskap aan diegene wat ons moet lei en dien, en ook tog aan onsself: Ons verdien meer blydskap-taal en minder hartseer-taal.

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page