top of page
  • Leon de Stadler

Dat 'n indeks nou tog só interessant kan wees!

- die indeks van Spreekwoorde en ander segswyses


Spreekwoorde en ander segswyses (Pharos) het onlangs verskyn en bevat onder andere 'n indeks van begrippe of konsepte wat 'n belangrike toegangsroete bied tot die spreekwoorde in die woordeboek en wat nogal op vreemde maniere interessante leesstof bied.


Die indeks werk so: In die hoofteks word elke spreekwoord aangebied onder 'n trefwoord met 'n definisie, die aangawe van 'n Engelse ekwivalent(e) of 'n Engelse verklaring, en een of meer konsepte waarmee die spreekwoord geassosieer word. So byvoorbeeld sal jy by die trefwoord speel by nommer 2 (want een trefwoord kan meerdere spreekwoorde met hom geassosieer hê) die spreekwoord Nie met jou laat speel nie, met die betekenis "nie met jou laat sukkel nie", twee konsepte aantref, nl. ASTRANT, HARDEKWAS. Op grond van hierdie konsepte kan al die spreekwoorde nou geïndekseer word, sodat alle spreekwoorde wat met astrantheid te make het onder die konsep "astrant" gelys word onder hulle trefwoorde (en die nommers waar ter sake), naas bg. een nog dertien nogal: Diknek gooi/maak; Jou haantjie hou; Hans wees; Hardegat wees; Hardekoejawel wees; Hardekwas wees; Hoe kaler, hoe brutaler; Jou lyf grootman hou; Rammetjie-uitnek wees; Te groot vir jou skoene wees; 'n Snip(snater) wees; Iemand het 'n vry sê; Voor op die wa wees. Sodoende ontdek jy ander spreekwoorde wat dalk die konsep vir jou beter oordra as die een wat jy reeds het. Vir Engelse gebruikers wat op soek is na Afrikaanse spreekwoorde is daar ook 'n Engelse weergawe van die indeks.


Maar die indeks is ook interessante leesstof omdat dit vir 'n mens blootlê watter konsepte dit is wat ons oor die jare met spreekwoorde onder woorde gebring het. Dit is veral ook interessant om te sien watter konsepte die meeste spreekwoorde met hulle geassosieer het, konsepte soos ARMOEDE, BEDRIEG, BEGIN, BELEDIG, BERISPE (nogal baie), DOM, DRONK/DRANK/DRINK (baie), GEHEIM, GELUK/GELUKKIG, GEVAAR, GEVOLGE, HUMEUR, HUWELIK (dat dié twee nou langs mekaar moet land ...), KLERE, KINDERS, KWAAD (... en dié twee), MISLUK, MOEILIK/MOEILIKHEID (vreeslik baie), NUTTELOOS, ONAANGENAAM, ONSIN, PRAAT (natuurlik), RYKDOM, SLAAN/SLAE (baie), SLEG, TEVERGEEFS, TRONK, TWIS, TWYFEL, TYD, VERLIEF, VERSIGTIG, VINNIG, WEN, en WERK. Hier is een of ander sosiaal-psigologiese analise van Afrikaanssprekendes wat skuilhou! Iets van die siel van die gemeenskap word inderdaad openbaar in ons spreekwoorde.


Spreekwoorde en ander segswyses is beskikbaar in boekwinkels, maar ook by die volgende aanlynomgewings:


Exclusive Books: https://www.exclusivebooks.co.za/product/9781868902194 (no cover - will prompt)




Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page