Afrikaans in ander hande
Op 12 April 2018 het ek 65 geword. 'n Besondere viering sal mense sê, 'n dag waarop jy sekerlik een of ander groot partytjie sal hou waar verskillende mense allerlei rare dinge oor jou sê in toesprake wat mens soms bietjie sweterig laat.
Maar ek het anders gedink.
Op dieselfde dag het Amanda, my vrou, en haar kollega, Chareldine van der Merwe, een van hulle boektrommelprojekte uitgevoer in Ceres waar trommels uitgedeel sou word, werkswinkels oor leesontwikkeling gehou sou word en 'n gesprek oor Afrikaans sou plaasvind. En ek dink toe so: Ek gaan op 'n motorfietstoer en sorg dat ek dan die middag in Ceres eindig sodat ek ten minste die aand by my vrou slaap en iets prettigs saam met haar doen, soos uiteet of so. Ek is in elk geval nie so mal oor hierdie ronde-syfer-partytjies nie, het ek gedink.
'n Baie belangrike voorwaarde wat ek gestel het, was dat ek vry sou wees, veral dat ek nie sou meedoen aan een van die aktiwiteite nie. Ek meen, ek verjaar darem, en vir iets wat soos werk klink was ek nie lus nie.
Natuurlik het dit anders uitgewerk, dit raai die leser al. Deur omstandighede, kry ek in eerste instansie 'n heerlike braai saam met van die Ceres-mense aan huis van een van die skoolhoofde, mnr Balie, en sy vrou. Wonderlike mense, en die braai sou net prettig word, dis seker.
Maar toe vang Amanda my met 'n slenter: Onwillige ek moet maar saamgaan na die gesprek oor Afrikaans, want ons moet direk daarna na die braai ens. ens.
Daar sit ek toe ewe dikbek agter in die skoolsaal en wag op 'n vergadering waarvoor ek nie lus was nie. Ek meen, ek verjaar!
En toe gebeur dit: Eers hoor ek 'n uiters boeiende inleiding oor Afrikaans se vandaan en sy waarheen deur dr Willa Boesak, in 'n skoolsaal wat vol kinders sit (ongeveer 100 van hulle – ongelooflik!). En daarna kom die stemme los, en dis nie 'n spul “oumense” (Askies, oumense, ek is immers ook een) wat afgesaagde idees oor Afrikaans en sy toekoms meedeel nie, maar hierdie vars klank van jongmense wat praat oor die waarde wat Afrikaans vir hulle het, van jongmense wat nie eers moedertaalsprekers is nie wat Afrikaans aanleer omdat hulle die waarde daarvan insien, van 'n isiXhosa-ma wat die vrymoedigheid het om op te staan en in haar gebroke Afrikaans te vertel hoe sy haar kinders oortuig om Afrikaans aan te leer en self ook Afrikaans aanleer, van 'n isiXhosa-matrikulant wat met groot entoesiasme en selfvertroue in die mooiste bry-Afrikaans vertel dat hy 'n boer wil word met sy eie kortbroek en sy eie trekkers.
Die mooiste was dat hierdie jongmense nie op hulle laat wag het nie, hulle het gepráát, en die beste van alles: Ek het nie een keer daardie aand 'n enkele stem gehoor wat praat oor veg vir Afrikaans nie, geen enkele woord van baklei-taal of enige ander vorm van negatiwiteit nie. Geen nodigheid om universiteite of ander partye aan te val en sleg te sê nie, geen handewringende bekommernis-taal, geen mismoedigheid of vrees oor die toekoms nie.
Wat 'n geleentheid was waaraan ek geen deel wou hê nie – ek verjaar mos, man – het uiteindelik iets so aangrypend geword vir my, iets byna emosioneels. In die hande van jongmense soos hierdie gaan Afrikaans ok wees, dit was my oorheersende gevoel. Dit is mos waar die toekoms van die taal lê, vanselfsprekend byna.
Uiteindelik 'n ervaring wat die beste geskenk was waarvoor ek op my 65ste kon gehoop het.
Leon de Stadler Stellenbosch
17 April 2018
Comments